Adjunk Eerste Minister/Adjunk-leier van die opposisie

Vanaf DebatWiki

Inleiding[wysig]

Tydens ‘n Britse-parlementêredebat speel die Adjunk-eersteminister/Adjunkleier van die Opposisie ‘n besonderse belangrike rol. Vir doeleindes van hierdie bespreking gaan daar eenvoudig na die Tweede Spreker verwys word.

Die Tweede Spreker is ‘n besonderse tegniese en uitdagende posisie om te praat. Dit verg noukeurige analise te same met strategiese breëprentjie-denke en beplanning. Gelukkig is hierdie handleiding juis hier om hierdie sprekerposisie eenvoudig te maak sodat elke huidige en toekomstige Tweede Spreker nie net die posisie kan baas raak nie, maar as die beste spreker van elke debat kan wegstap.

Spanrol[wysig]

Soos dit die geval is met elke sprekerposisie, is die Tweede Spreker se rol uniek. Om ‘n eenvoudige sportanalogie te gebruik, die Tweede Spreker is die skrumskakel van debat. Die rigting van ‘n debat word bepaal, gemaak of gebreek deur die besluite wat jy as Tweede Spreker neem.

Die Eerste Spreker kan gesien word as die voorspelers. Hulle lê die grondslag vir die aanval wat op pad is. Die Derde Spreker en Sweep is die sprekers wat die drieë druk of die finale aangee gee. Maar vir die van ons wat hou van om die rigting van die aanval te bepaal, vir ons is die Tweede Spreker posisie perfek.

Teen die tyd wat enige een van die twee Tweede Sprekers begin met hul toesprake is jou span se argumente reeds ten minste eenkeer reeds weerlê.

In die geval van die Adjunk-eersteminister was die vorige spreker die Leier van die Opposisie wat reeds die Eersteminister se argumente aangespreek het. Of alternatiewelik in die geval van die Adjunkleier van die Opposisie is jou span se argumente reeds deur die Adjunk-eersteminister aangespreek. Met ander woorde teen die tyd wat dit jou beurt is om op te staan en te praat is daar klomp argumente asook weerleggings wat reeds gemaak is.

Jou taak as Tweede Spreker is om op hierdie punt, aan die hand van die argumente wat tot dusver gevoer is, te besluit in watter rigting vir jy hierdie debat stuur. Hierdie strategiese besluit word uitgevoer deur drie eenvoudige dinge, naamlik die verdediging van jou span se argumente, die aanval van die teenkant se saak en laastens deur nuwe argumente te maak. Hierdie is ook die voorgestelde volgorde om jou toespraak in te struktureer.

Verdediging van argumente[wysig]

Om 'n idee te verdedig beteken om die argument met oortuiging en met passie te beskerm. Sulke toewyding is noodsaaklik tydens ‘n debat al is dit nie noodwendig wat jy persoonlik glo nie. Indien jy dit moeilik vind om ‘n standpunt te verdedig weens jou eie oortuigings moet jy jou klem en passie skuif na die kuns van verdediging eerder as die standpunt self. Entoesiasme en passie tydens debat help jou ook om ander nader jou saak te bring.

Aangesien jy so bekoor is met jou idee of standpunt, is jou instink om dit te beskerm ten alle koste. Hierdie is egter ‘n groot fout! Dit plaas jou op die verdediging. Tydens ‘n debat moet jy jou standpunt verdedig sonder om verdedigend te wees.

Daar moet ook onderskei word tussen om ‘n standpunt te verdedig en ‘n standpunt te kwalifiseer. As Tweede Spreker is hierdie ook ‘n nuttige onderskeid.

Wanneer jy jou spanmaat se argument kwalifiseer beteken dit dat jy bykomende inligting of bewyse verskaf. Dus deur van meer besonderhede, eienskappe of feite gebruik te maak versterk jy jou spanmaat se argument. Kwalifisering is belangrik wanneer dit duidelik is dat die teenkant uitdruklik vir meer bewyse gevra het of aangevoer het dat daar nie ondersteunende bewyse is nie. Kwalifisering is ook nuttig indien dit duidelik is dat die teenkant nie jou spanmaat se argument behoorlik begryp nie. Deur aanvullende inligting te gee kan die teenkant se sprekers na jou beter reageer en die debat meer effektief ontwikkel.

Hierteenoor is daar die verdediging van ‘n argument. As Tweede Spreker is hierdie een van die eerste goed wat jy tydens jou toespraak moet aanspreek. Die spanmaat voor jou het die grondslag van jou span se argument gelê en die teenkant het daarop gereageer. Jou werk is om nou uit te wys hoekom die teenkant se aanval op die Eerste Spreker se argumente foutief is.

Dit is belangrik om te onthou dat om ‘n argument te verdedig beteken nie dat jy net herhaal wat die Eerste Spreker gesê het nie. Om doeltreffend te reageer behels die volgende eenvoudige resep:

1. Identifiseer jou spanmaat se argument se hoofstandpunt. (Die “Want” van die argument”) 2. Identifiseer die teenkant se argument se kritiek. 3. Vergelyk die twee teen mekaar en vra vir jouself die vraag “Hulle is verkeerd want…”

Kom ons gebruik ‘n voorbeeld:

Jou spanmaat het geargumenteer dat “Dit reën tans buite”.

In reaksie hierop het die teenkant gereageer deur te sê “Nee dit reën nie tans buite nie want die weervoorspelling het gesê dat dit nie gaan reën nie”.

Jou werk is dus om jou spanmaat se argument te vergelyk met die teenkant se argument en te sê hoekom jou spanmaat reg is.

Om dit op die voorbeeld hierbo toe te pas, die teenkant is verkeerd want “‘n Weervoorspelling bepaal nie of dit tans reën of nie”.

Hier word jou spanmaat se argument behoorlik verdedig en die debat word ontwikkel. Let ook op hoe verdediging van jou spanmaat se argument nie eenvoudig die herhaling van jou spanmaat se argument is nie.

Dit sou baie onoortuigend oorkom indien jy die teenkant se argument dat “dit reën nie tans buite nie want die weervoorspelling het gesê dat dit nie gaan reën nie” geantwoord het deur te sê dat hulle is verkeerd “want my spanmaat het mos gesê dit reën nie tans buite nie”.

Soms gaan dit nodig wees om jou spanmaat se argumente reg te maak. Hier is dit belangrik om nie duidelik te erken dat jou spanmaat ‘n fout gemaak het nie, maar om op klein wyses die gate wat jou spanmaat dalk veroorsaak het netjies te vul. Jy vul hierdie gate deur of jou spanmaat se argumente te verdedig (hopelik beter as wat hy of sy dit self gestel het) of deur dit te kwalifiseer.

Die verdediging van jou spanmaat se argumente is die eerste stappie in die proses om die rigting van die debat te stuur soos jy dit wil hê.

Aanval van die teenkant se saak[wysig]

Nadat jy jou eie spanmaat se standpunte verdedig het is dit die geleentheid om die teenkant se spreker voor jou se argumente te weerlê. Jy kan ‘n argument aanval deur hoofsaaklik drie benaderings.

Val kern-aannames aan

Die eerste en gewoonlik die effektiefste manier is om ‘n kern-aanname van die teenkant se argument aan te vat. Jou opponent se argument bevat gewoonlik die volgende drie elemente:

1. Die uitgangspunt is die vertrekpunt wat van afleidings gebruik maak. ‘n Uitgangspunt word dikwels algemeen aanvaar deur almal wat betrokke is. 2. Die gevolgtrekking is die standpunt wat jou opponent graag wil hê die gehoor en jy moet glo aan die einde van sy argument. 3. Die aanname is die versweë verband tussen die uitgangspunt en die gevolgtrekking. Alhoewel die aanname versweë is, is dit die middelpunt van die argument en die gom wat die hele argument saamhou.

Dit is dus belangrik om die aannames van jou opponent se argument te kan identifiseer.

Een leidraad om aannames te identifiseer is om in gedagte te hou dat aannames meestal nie spesifieke stellings is nie maar eerder algemene stellings. Kyk na die volgende voorbeeld:

As uitgangspunt sê jy dat “Kobus het eienskap A” en my gevolgtrekking is dat “Dus het Kobus eienskap B”, dan gaan die aanname niks met Fred te doen hê nie. ‘n Voorbeeld aanname hier is dat “alle mense met eienskap A het ook eienskap B”. Die aanname het dus nie met Kobus te doen nie. Dit is dus soms nuttig om die spesifieke persoon, plek, organisasie of geval weg te laat om die aanname te kan identifiseer.

Kom ons pas die beginsel toe met die volgende voorbeeld:

Die uitgangspunt: Die Drankensberge is natuurskoon (Ons kan met veiligheid aanvaar dat meeste mense hiermee sal saamstem) met die gevolgtrekking dat mense wat daar woon nie kan konsentreer nie. Die aanname moet dus ‘n skakel hierbo verskaf.

Die Drakensberge is die spesifieke plek, so laat dit vir ‘n oomblik weg. Die uitgangspunt het te make met "plekke met pragtige natuurskoon", en die gevolgtrekking met "moeilikheid om te konsentreer". Nou kort daar net ‘n sterk logiese verband tussen die twee, soos byvoorbeeld "Mense in plekke met pragtige natuurskoon het oor die algemeen probleme om te konsentreer."

Dit is hierdie laaste sin (die aanname) wat jy moet aanval deur van alternatiewe feite of bewyse gebruik te maak.

Die eerste plek om dus te begin wanneer dit kom by die aanval van jou opponent se argument is om die aanname te identifiseer en daardie aanname aan te val.


Bevraagteken bronne of bewyse

Die tweede moontlike metode om jou teenkant se argumente aan te val is om die bewyse of bronne wat jou opponent gebruik het te bevraagteken.

Bronne kan 'n studie, 'n bepaalde gesagsfiguur of 'n algemeen aanvaarde feit wees. Om dus die bron of bewys te bevraagteken behels dat jy die geloofwaardigheid van daardie bron bevraagteken. Om dus die bron aan te val moet jy uitwys hoekom ons nie daardie studie, gesagsfiguur of algemeen aanvaarde feit kan vertrou nie.

Die geloofwaardigheid van ‘n bron kan getoets word indien daardie selfde studie, gesagspersoon of algemeen aanvaarde feit voorheen ander teenstrydige gevolgtrekkings bereik het.

Bronne kan ook bevraagteken word indien daardie bron moontlik bevooroordeeld is. Indien ‘n bron partydig is of ‘n belang het by die bron se gevolgtrekkings moet dit uitgewys word.

Verder kan die bronne se metodologie of benadering ook gekritiseer word om gevolglik die bron aan te val. Indien ‘n bron nie byvoorbeeld alle relevante faktore in ag geneem het nie of vanaf die verkeerde punt begin het, kan alles die geloofwaardigheid van daardie bron in gedrang plaas.

Onlogiese of absurde gevolgtrekking uitwys

Die laaste wyse om ‘n argument aan te val is om uit te wys dat die argument logieserwys lei na ‘n onlogiese of absurde gevolg.

In plaas van om op die beginpunt te fokus, kan 'n aanval op die argument kyk waarheen lei die argument en na watter gevolgtrekking dit kom. Dit kan 'n kragtige manier wees om 'n argument aan te val sonder om eers in die besonderhede van die argument in te gaan.

As die oorspronklike gevolgtrekking van die argument verdere gevolgtrekkings impliseer, waarvan sommige onredelik, onlogies of absurd is, dan toon hierdie resultaat eenvoudig dat daar iets fout is met die oorspronklike gevolgtrekking. Dit maak nie saak hoe die argument by daardie oorspronklike gevolgtrekking gekom het nie - as dit iets foutief impliseer, is dit 'n foutiewe gevolgtrekking.


Maak nuwe argumente

As Tweede Spreker is jou finale taak as hoofstrateeg om jou eie argumente te maak. Nadat jy jou eie spanmaat se argumente verdedig het en jy toe die teenkant se argument weerlê het, is dit nou jou beurt om jou argumente te maak. Jy bou dus nou voort op jou harde werk en stuur jou span en die debat in die regte rigting.

Onthou altyd dat jou eie argumente moet aansluit by julle span se holistiese argumente en benadering. Daar moet dus ‘n gouedraad wees wat deur jou en almal anders se argumente wees.

Argumentstruktuur[wysig]

Alhoewel die Tweede Spreker se argumentstruktuur soortegelyk lyk aan die algemene argumentstruktuur verskil dit effens met hoe en waar daar klem gelê moet word. Kortliks kan die Tweede Spreker se struktuur soos volg uiteengesit word:

1. Bespreek die stand van die begripsontleding; 2. Verdedig jou spanmaat voor jou se standpunte (Soos bo bespreek); 3. Val die teenkant se spreker voor jou se argumente aan (Soos bo bespreek); 4. Stel jou eie argumente en verduidelik hoe dit in julle span; 5. Vat saam en sluit af.

Soos ook hierbo bespreek bestaan ‘n argument uit ‘n uitgangspunt, ‘n gevolgtrekking en ‘n aanname wat die uitgangspunt en gevolgtrekking verbind.

Slot[wysig]

Om dus saam te vat, onthou dat jy as Tweede Spreker speel ‘n ongelooflike belangrikke besluitnemingsrol tydens ‘n debat. Wanneer dit met ‘n debat goed gaan dan kan jy die laaste spyker in jou opponente se doodskis wees en wanneer die debat sleg gaan is jy ten volle in staat om die rigting van die debat te verander sodat die Derde Spreker en Hoofsweep na jou kan kom om die debat finaal te wen te danke aan jou flink besluitneming wat die debat gered het.