Bronne

Vanaf DebatWiki

Brongebruik tydens argumentering[wysig]

Het jy al ooit ‘n prentjie van ‘n groot antieke Griekse tempel gesien? Dink byvoorbeeld aan die Akropolis in Atene – waarvan baie dele vandag nog staan. Hierdie indrukwekkende gebou is gebou voordat mense dieselaangedrewe masjiene gehad het om swaar klippe teen berge op te vervoer, of om swaar klippe meters bo die grond te lig om ‘n dak op te sit. Natuurlik het die manier hoe ons geboue bou baie verander in die laaste 25 eeue, maar die kernverwagting van ‘n gebou bly tog sekerlik dieselfde: Dit moet nie inmekaar tuimel as ‘n sagte windjie waai nie! Ons verwag dus van ‘n gebou om struktuur te hê, om op ‘n paar vaste pilare, mure, of fondasies te staan – so weet ons hierdie gebou kan vertrou word, en ons kan intree. Met ‘n argument is dit baie dieselfde – waarom weet ek dat ek jou argument moet glo? Watter gesag is daar wat vastigheid aan jou argument gee? Is dit getoets, is dit sterk genoeg om aanvalle te weerstaan? Is dit prakties, werkbaar? In hierdie hoofstuk kyk ons na brongebruik – wat is ‘n bron, hoe moet ek ‘n bron aanhaal, en waarom is bronne belangrik? As jy hierdie hoofstuk goed verstaan sal dit jou argumente se geloofwaardigheid verbeter, en jou 'n beter debateerder maak, maar op die lang termyn sal dit ook help (as jy eendag besig is om ‘n Meesters- of Doktorsgraad moet skryf en jy weet al hoe om met bronne te werk het jy ‘n massiewe voorsprong bo hulle wat dit dan vir die eerste keer moet leer).

A. Kom ons kyk dus eerste na wat is ‘n bron, en wat is nie ‘n bron nie.[wysig]

Die woord bron in sy algemene betekenis verwys na die beginpunt van iets. Jy sal ‘n sin hoor soos “wat was die bron van die veldbrand?” – hierdie vraag wil bepaal wat die oorsprong van die brand was. Alhoewel hierdie betekenis relevant is wanneer ons oor argumentering praat, is dit tog nodig om heelwat dieper uit te brei. ‘n Bron binne ‘n argument is ‘n gedeelte van jou toespraak waartydens jy na ‘n ander gesag as net jou eie woord verwys om jou argument te staaf. Soos wat ons so dikwels op die nuus en by politici sien is dit ongelooflik baie maklik vir mense om net iets te sê wat nie waar is nie, daarom is bewyse dikwels nodig, iets wat gesag aan ‘n opmerking gee, iets wat bewys dat dit waar is. Dink byvoorbeeld aan ‘n kleuterskoolklas – as die juffrou sou vra wie het die verf op die grond gemors, sal die kinders sekerlik sê: ”Juffrou, dit was Jannie, ek het gesien hoe staan hy op en hoe val die verf”. Deur by te voeg dat hy of sy dit gesien het, motiveer die kind die egtheid daarvan. Bronne is natuurlik nie altyd eg nie, juis omdat getuienis of selfs ‘n publikasie vervals kan word – daarom heg ons sekere gesag aan sekere bronne – ons weet byvoorbeeld dat ‘n bekende koerant groot navorsingseenhede het en nie sommer net iets sal publiseer sonder om dit na te gaan nie. ‘n Bron is dus iets wat ek sê om die egtheid van my argument te motiveer. As ek byvoorbeeld argumenteer dat boere minder belasting moet betaal hierdie jaar omdat dit minder reën in die Vrystaat, en niemand in die vertrek was onlangs in die Vrystaat nie, hoe sal hulle weet of my stelling, naamlik dat daar minder reën was, enigsins waar is (of water dra...)? As ek egter ‘n bekende landboukundige se artikel in die nuutste Landbouweekblad aanhaal, en daardie aanhaling gee statistiek wat bewys dat my stelling waar is, glo almal in die vertrek my heel waarskynlik, en dra my argument, naamlik dat boere belastingkortings moet kry, baie meer water as tevore. Die gebruik van bronne is nie in alle debatformate algemeen nie, daar is sommige amptelike debatformate wat net op logika berus, wat natuurlik sekere voordele het, soos dat die sprekers in hulle voorbereiding soek na beter argumente en nie net beter bronne nie, maar dit het ook die nadeel dat almal in die vertrek nie werklik ‘n ander keuse het as om die stellings van die spreker te glo nie. Dit het byvoorbeeld al gebeur dat Europese Universiteite teen mekaar gekompeteer het by internasionale kompetisies, en dan aannames gemaak het oor ander lande of kontinente wat heeltemal verkeerd was, maar almal in die vertrek het hulle geglo, want geen gesag is vereis nie. Ons behoort nie werklik in ‘n bespreking betrokke te raak oor of bronne goed of sleg is nie, in my opinie is daar ‘n plek vir formate met bronne, en vir formate sonder bronne. Dit is onaanvegbaar waar dat studente wat op ‘n jong ouderdom leer hoe om navorsing te doen ‘n voordeel in nagraadse studie sal hê, dit is net so waar dat mens nie altyd in die lewe toegang het tot die nuutste kennis nie – leer dus om met en sonder bronne reg te kom. In terme van praktyk is daar dinge soos goeie bronne, dinge soos slegte bronne, en dan dinge wat mense dink bronne is, maar wat nie noodwendig geld as bronne nie. ‘n Goeie bron is ‘n bron wat bo verdenking of twyfel is. So ‘n bron bevat die volgende dinge:

  • 'n Gesaghebbende outeur. Om vir President Nelson Mandela aan te haal oor reënval in die Vrystaat sou nie noodwendig goed wees nie, omdat hy ‘n politikus is, en omdat sy spesialiskennis Amerikaanse politiek is. Noem ook sommer die hele opskrif van die berig, sodat iemand wat dit na die tyd sou wou nagaan dit maklik kan gaan doen.
  • ‘n Resente datum (Meestal). Om reënvalsyfers van 1998 aan te haal as motivering vir ‘n argument in die 21ste eeu is sinneloos, omdat dit nie meer relevant is nie, en heel moontlik in tussen al verander het. Dit is egter so dat van die opmerkings deur filosowe in die 18de eeu vandag nog relevant is, moet dus nie dink dat alle bronne altyd in die laaste ses maande gepubliseer moet wees nie. Om die Franse filosoof Jean Jacques Rosseau aan te haal as jy praat oor individuele vryhede is vandag nog relevant, juis omdat hy as vader van hierdie veld van filosofie beskou word deur baie.
  • ‘n Gesaghebbende publikasie. Dikwels het beoordelaars ‘n probleem daarmee as jy populêre tydskrifte aanhaal vir wetenskaplike sake – en dit maak sin, so lief as wat ons almal vir Sarie en die Huisgenoot is, sou ‘n Akademiese joernaal verkieslik wees. Dit gesê, as jy wel kan motiveer dat dit in ‘n wetenskaplike afdeling van dié tydskrif was, behoort meeste selfdenkende beoordelaars darm te verstaan.
  • Egte inhoud. Dit kan soms gebeur dat ‘n debatspreker, as gevolg van tydsdruk, nie presies seker is wat ‘n publikasie sê nie, maar dit steeds aanhaal in sy of haar toespraak – dit is nou soos wat my ma vir my sou sê as ek raas wanneer grootmense slaap, om op dun ys te loop! Maak seker dat dit wat jy sê waar is – jy kan dalk wegkom met ‘n valse of halfpad waar bron, maar die dag wat iemand in die ander span skerp genoeg is om jou uit te vang beskadig jy jou eie naam en reputasie permanent by almal in daardie vertrek. Maak ook seker dat jy verstaan wat jy sê, en dat jy dit reg sê. Ek was onlangs in ‘n debat betrokke oor polisiedienste. Die spreker wou graag na Glen Agliotti verwys, ‘n persoon wat op daardie stadium ‘n bekende in die media was, maar het in werklikheid gesê Carlo Ancelotti, wat op daardie stadium die afrigter van Real Madrid Sokkerklub was – dit is sekerlik onnodig om te meld dat, toe dit vir hom uitgewys is, sy span se debat basies platgeval het, omdat die hele vertrek besef het dat die spreker nie die bron ken nie.

‘n Goeie bron voldoen aan al hierdie vereistes, indien enige van hierdie vereistes ontbreek loop jy die risiko dat jou opponent jou bron en dus jou argument kan aanval. ‘n Bron wat net aan ‘n paar van hierdie verwysings voldoen kan beskryf word as ‘n swak bron, maar dit is tog ‘n bron. Daar is ook verskeie dinge wat nie tel as ‘n bron nie – hierdie lys is oneindig, maar hier word die mees algemene voorbeelde gelys:

  • 'n Aanhaling deur ‘n bekende persoon – as dit nie ‘n argument motiveer nie is dit nie ‘n bron nie.
  • ‘n Storie uit jou persoonlike lewe – om te vertel dat iets waar is omdat jou pa of ma so sê sal meestal nie werk na die beginjare van laerskool nie.
  • ‘n Gelowige gedeelte. Om die agtste gebod, wat ons in Eksodus 20 vind, aan te haal as ‘n bron vir waarom dit verkeerd is om te steel, vergeet jy dat nie almal in jou vertrek noodwendig gelowig is nie, ook nie almal in jou land nie, dit is dus nie vir almal geldig nie, en is nie ‘n bron nie.
  • ‘n Bekende film of storielyn. Om na ‘n liefdesverhaal te verwys as ‘n bron vir waarom alles altyd uitwerk of na ‘n oorlogsfilm te verwys as bron dat die sterkste nie altyd wen nie is goeie beeldspraak, maar jy kan ongelukkig nie bronpunte daarvoor verwag nie.

B. Tweedens kyk ons na hoe jy ‘n bron by jou toespraak moet inpas.[wysig]

Waar presies jy jou bron by jou argument wil inpas hang van jou af, daar is in wese vyf moontlikhede:

  1. Aan die begin van jou toespraak. Nadat jy almal gegroet het noem jy al die bronne wat jy in hierdie toespraak gaan gebruik, en noem telkens in die toespraak net die naam van die deskundige. Hierdie benadering is nie populêr nie, omdat dit ‘n baie vervelige begin van jou toespraak veroorsaak, en inligting gee wat eers later relevant is. Hierdie benadering is slegs vir persone wat elke liewe keer vergeet om hul bronne aan te haal tydens argumentering.
  2. Aan die begin van die argument. Dink byvoorbeeld aan ‘n debat oor die regering se plig teenoor boere, ek kom by my eerste argument:

Lede van die huis, kom ons kyk eerstens na belastingkortings: Professor Herman van Schalkwyk, voormalige Rektor van die NWU en 2014 se landboukundige van die jaar, noem in verlede week se Landbouweekblad in ‘n artikel met die titel “boere trek swaar” dat lae reënval slegte mielieoeste gaan veroorsaak. Dit moet dus vir ons duidelik wees dat boere ondersteuning nodig het. Hier is die bron aan die begin van die argument gebruik, en die argument deur die debatteerder het daarop gebou.

  1. In die middel van die argument:

Lede van die huis boere het ondersteuning van die staat nodig om te oorleef in hierdie jaar, juis as gevolg van die erge droogte wat tans op plase in Suid-Afrika heers. Hier haal ek graag vir Professor Herman van Schalkwyk, voormalige Rektor van die NWU en 2014 se landboukundige van die jaar aan, in sy artikel in verlede week se Landbouweekblad... dit behoort dus vir u duidelik te wees dat ons hierdie saak moet aanspreek. Hier is die bron in die middel van die argument aangewend, met argumentering daarvoor of daarna.

  1. Aan die einde van die argument: Jy as spreker kan eers jou hele argument voltooi, en dan, na afloop van jou hele argument ‘n bron aanhaal wat jou opmerking as gesaghebbend verklaar.
  2. Aan die einde van die toespraak. Hierdie metode is uiters skaars en word nie werklik in orale redenering gebruik nie. Dit is gebruiklik om in ‘n akademiese werk al jou bronne aan die begin of einde volledig te noem, en in jou artikel self net vinnig daarna te verwys, maar dit is nie die praktyk in debattering nie – nietemin, indien jy as spreker dit so wil doen kan jy, maar dit is teen die norm en jy gaan heel moontlik ernstige penalisasies opdoen as gevolg daarvan.

C. Derdens kyk ons nou na waarom bronne belangrik is.[wysig]

Hier gaan ons kyk na twee redes: Die argitek se rede, en Koning Salomo se rede (Ek sal nou verduidelik, hang vas).

i. Die argitek se rede[wysig]

Soos wat ons aan die begin genoem het is ‘n argument soms soos ‘n huis wat jy bou. As jy nonsens praat of dinge opmaak, dan bou jy ‘n huis wat met ‘n sagte windjie omgewaai sal word. Hoe meer korrek, en hoe dieper nagevors jou argument is, hoe kleiner is die kans dat jou opponent jou argumenthuisie kan afbreek. ‘n Bron is ‘n fondasie of ‘n steen wat deur iemand anders vir jou daar gelê is, en dit is ‘n onbeweeglike feit waarop jy kan bou. As jy statistieke aanhaal oor Suid-Afrika se bevoliking en ons leesvermoë in ‘n debat oor die gehalte van opleiding in Suid-Afrika, bring jy feite waarmee jou opponent nie kan stry nie, jy bou onbeweeglike fondamente met stewige stene.

ii. Koning Salomo se rede[wysig]

Koning Salomo het baie lank terug gelewe, maar hy het die opmerking gemaak “Niks wat gebeur is nuut nie”. Ons moet daarmee vrede maak dat baie van die dinge wat tans met ons gebeur al in die verlede gebeur het. Korrupsie, misdaad, oorlog, liefde, rampe, terrorisme – alles baie aktuele sake, en tog lees ons al van hierdie dinge in tekste wat baie ouers is as meeste beskawings – omdat hierdie dinge nie nuut is nie. As jy kyk na ‘n bevolking wat ‘n onetiese leier blindelings volg en jy haal vir Adolf Hitler of Pol Pot aan as voorbeelde, is jy besig om argetipes voor te hou van karakters wat al te voorskyn gekom het in die wêreldgeskiedenis – en dit is geldig, juis omdat jy jou gehoor waarsku teen so ‘n karakter se herverskyning. Hier bedoel ek nie ‘n vreemde reïnkarnasie nie, maar gewoon dat radikale leiers dikwels baie in gemeen het – en dat dit nie onregverdig is om hierdie punt uit te wys nie. Vir jou om uit te wys dat die regering in die verlede nie belastingvoordele aan boere in droogte gegee het nie, dien as konteks vir die hede – jy moet ook die hede met ‘n bron aantoon, maar die geskiedenis het waarde, en bronne maak vir jou die deur na hierdie waarde toe oop. Afsluiting In hierdie hoofstuk het ons spesifiek gekyk na bronne, en waarom ander gesag as jou eie dikwels in ‘n toespraak relevant is. Onthou dat ‘n goeie algemene kennis altyd ‘n debatteerder se beste wapen is, maak seker dat jy gereëld nuus lees, op hoogte is van opspraakwekkende sake die wêreld om – sodoende, bronne of nie, is jy gereed vir ‘n debat!