Debat en die samelewing

Vanaf DebatWiki

1. Bekende praters en hulle lewenswandel:[wysig]

  • Sokrates die vader van westerse filosofie
  • Cicero die Romeinse orator
  • Abraham Lincoln, die President wat slawerny in die VSA beëindig het
  • Mohandas Gandhi, leier van die geweldlose opstand van Indiese werkers in Natal
  • Malcolm X, leier van Swart Nasionalisme in die VSA

Wat het elkeen van hierdie manne in gemeen? Is dit dat hulle vir hulle idees doodgemaak is, vermoor is omdat hulle iets anders gedink en gesê het as die mense van die tyd? Ja, hulle het dit in gemeen, maar wat elkeen van hulle ook in gemeen het is dat hulle idees die wêreld soos wat ek en jy vandag daarna kyk verander het. Hierdie ses mense se idees, wat reglynig teen die norm van die tyd ingegaan het, het verander hoe ons wêreld vandag funksioneer.

Sokrates, volgens die bietjie wat ons van hom weet, was maar ‘n verstrooide man. Hy het dag in en dag uit op Atene in Griekeland se stadsplein gesit en vir mense wat verbyloop vrae gevra. Wat is die doel van jou bestaan? Wat is die manier om ‘n goeie lewe te leef, en baie sulke vrae, wat die onskuldige mense op pad mark toe nie noodwendig te besorg oor was nie. In Sokrates se tyd – 2400 jaar terug – was dit die praktyk dat ouers hulle kinders onderrig. Die kind se kennis het gestrek sover sy of haar ouers se kennis gestrek het. Sokrates het gesê dat die slimste mens in die dorp die kinders moet onderrig, dus het hy die basiese model vir ‘n universiteit daargestel. Binnekort het die ouers egter begin voel die kinders kom in opstand teen hulle met al hierdie nuwe kennis, en Sokrates moes ‘n koppie gif drink vir sy moeite... Die punt is dat deur op te staan, en te verskil van die norm, hy ‘n impak op sy gemeenskap gemaak het wat langer bly staan het as selfs die grootste wêreldryke.

Cicero, ‘n Romeinse politikus, het geglo dat een man nie al die mag in Rome moet hê nie, en het vir Marcus Antonius, wat vir Julius Caesar wou opvolg, openlik met ‘n reeks publieke toesprake gekritiseer. Vir sy kritiek het hy sy lewe as boete betaal, maar die idee dat een mens nie absolute mag oor ‘n nasie moet hê nie is tot vandag toe iets waarvoor daar elke dag in baie lande gestry, en selfs gesterf word. Abraham Lincoln, die sestiende President van die Verendigde State van Amerika, het bekend geword vir sy opposisie van slawerny, wat tot en met die tweede helfte van die negentiende eeu nog ‘n baie populêre idee in die VSA was, en ongelukkig, ondergronds, vandag steeds voortgaan. Lincoln se openlike stelling dat alle mense vry is, en dat geen mens ‘n ander mag besit nie, het hom baie onpopulêr gemaak, veral onder die Suidelike state van sy land, waar katoenboere baie arbeiders nodig gehad het om hulle bedryf te laat floreer. Sy idee, wat die wêreld wesenlik verander het, het hom sy lewe gekos, maar sy naam leef deur die eeue heen. Ook Mohandas Gandhi en Malcolm X het opgestaan teen die sosiale norm van hulle tyd, wat onderdrukking van baie mense beteken het, ook ten koste van hulself. Op hierdie punt vra jy jouself dalk of mens eers ‘n goeie debatteerder is as jy jou lewe vir jou saak verloor het. Die antwoord is natuurlik nee, hierdie lys is gewoon ‘n lys wat aan die meeste mense in die moderne wêreld bekend is, en deur met hierdie lys te begin, word die punt vir ons baie duidelik: Wat jy sê maak saak, en hoe jy dit sê maak saak!

2. Waarom moet ek met debat begin, en aanhou?[wysig]

Daar is baie redes waarom mense begin met debat. Vir sommige is dit ‘n manier om erkenning by ‘n skool of universiteit te kry, om dalk daardie ietsie ekstra op jou CV te hê wanneer jy eendag aansoek doen by ‘n universiteit of selfs by ‘n werkplek. Sommige mense doen debat om oor hul vrees vir openbare praatjies te kom, of om te leer hoe om hulself beter uit te druk. Vir ander is dit gewoon ‘n eenvoudige manier om nuwe mense te ontmoet.

Al hierdie redes is geldige, en goeie redes, maar daar is een rede wat nie op hierdie lys is nie, wat moontlik een van die primêre redes is waarom enige persoon met debat as aktiwiteit, maar ook as lewensstyl, moet begin: Om die wêreld te verander.

In die eeue en dekades wat nou en vandag voorafgaan is die beste idees in baie gevalle bepaal deur die land met die sterkste militêre mag. Dit was dikwels so dat jy moet kies tussen saamstem of jou lewe verloor – en dan is mense baie geneig om nie te dink oor wat aangaan, of wat vir hulle voorgeskryf word nie, maar net gewoon te doen soos die mense met die wapens sê. In die tyd waarbinne ons vandag leef is dit gelukkig in meeste gevalle nie meer so dat die sterkste persoon, of die een met die meeste wapens, se idee as reg en onaanvegbaar aanvaar word nie. Dit is gelukkig so dat, in baie gevalle, hulle met die beste idees, en die vermoë om hulle idees die beste te verkoop, as denkleiers aanvaar en aangestel word.

Kom ons kyk uit ‘n ander hoek uit na hierdie saak. As ‘n seuntjie of dogtertjie op agt- of negejarige ouderdom uitsonderlike spoed, vaardigheid, of instink op die sportveld vertoon, neem dit nie lank voordat die ooms en tannies langs die veld onder mekaar begin spekuleer oor ‘n blink toekoms in nasionale kleure nie. Die rede vir hierdie denkwyse maak sin: Ons wil tog die beste mense vir so lank as moontlik, op die beste plekke hê. Is dit nie met debat presies dieselfde nie?

As ‘n seuntjie of dogtertjie op agt- of negejarige ouderdom uitsonderlike vermoë toon om te praat, ‘n groep mense se aandag te hou, en ‘n punt te maak, is ons baie kere geneig om vir hierdie kind drome soos hoofleierskap, prefekskap en dies meer te sien. Hierdie drome is nie verkeerd nie, inteendeel skoolvlakleierskap is ‘n springplank vir van die beste leiers gewees, maar die beskouing is uiters klein. So gewoon as wat dit is om ‘n seuntjie te hoor droom daaroor om eendag vir die Springbokke te speel, so skaars is dit om ‘n dogtertjie of seuntjie te hoor droom daaroor om in die Parlement van Suid-Afrika te sit. Tog is die Parlement ‘n nasionale topstruktuur wat ons lewens elke dag impakteer. Win ons nie daar ook die beste mense vir so lank as moontlik op die regte plekke hê nie?

Debat is die wegspringpunt, of behoort die wegspringpunt te wees, vir enige persoon wat eendag ‘n impak op sy of haar wêreld wil maak. As jy nie die vermoë het om jouself goed uit te druk nie, kan jy die beste idee op aarde hê, jy gaan heel moontlik nie ‘n skare hê nie. Die teenoorgestelde is ongelukkig ook waar – hoeveel keer het leiers met swak, selfs gevaarlike idees, ‘n skare van duidsende en selfs miljoene mense saamgebring, gewoon omdat hulle die vermoë gehad het om ‘n punt so te maak dat mense luister.

3. ‘n Nuwe tyd vir debat in Suid-Afrika[wysig]

In die eerste gedeelte van hierdie hoofstuk het ons gekyk na bekende sprekers, wat hulleself deur middel van woorde uitgedruk het in opposisie van die status quo, die manier hoe dinge op daardie tyd op daardie plek gewerk het. In die tweede gedeelte het ons gekyk na waarom die belangrik is om reeds as jong kind te leer hoe om jouself behoorlik uit te druk. In hierdie gedeelte sal gekyk word na die een-en-twintigste eeu in Suid-Afrika. Wie is ons, waarheen gaan ons heen, en watter rol sal debatteerders speel?

In die afgelope dekades het daar in Suid-Afrika baie dinge baie vinnig verander, en ander dinge wat moes verander het presies dieselfde gebly. Al voel dit soms so is die stryd om vryheid en gelykheid in Suid-Afrika nie verby nie, ons kan sover gaan as om te sê dit is nog in die beginfase. Ons is besig om nader en nader aan ‘n verandering in mag te beweeg, nie noodwendig in terme van partye, name, of gesigte nie – maar eerder in terme van mentaliteit. ‘n Jong generasie was vry gebore is is besig om sy vere reg te skud en gereed te maak om sy vlerke te sprei – ‘n generasie wat op ‘n baie ander manier funksioneer as wat tot hier toe die norm was. In hierdie tyd wat kom het ons leiers nodig wat vaardige sprekers en debateerders is, vir verskeie redes:

I. Verdediging teen radikale idees Dit het al baie kere in die wêreld se geskiedenis gebeur dat ‘n radikale idee posvat onder ‘n sekere deel van die bevolking. Droogte, ekonomiese swarigheid of enige vorm van onderdrukking lei daartoe dat mense vir ‘n leier stem wat hulle nooit voor sou stem onder normale omstandighede nie. So kom mense met uiterste of radikale idees in posisies van invloed. In sulke gevalle gebeur dit dikwels dat groot dele van die bevolking soos ‘n golf opgesweep word, dikwels teen ander dele van die bevolking.

In die geval waar leiers met radikale idees besig is om steun te wen, sal slegs ‘n goeie debatteerder, met die vermoë om die radikale idees wat voor gehou word effektief van die tafel af te vee, werklik ‘n halt kan roep aan die groeiende golf. Om die idees van jou opponent te hoor, daaroor te dink, en met ‘n geldige tog aanvaarbare verdediging vorendag te kom, en dit so aan te bied dat die skare van luisteraars jou kant bo die van jou opponent kies, is niks anders as wat ‘n debatteerder doen nie. In die 1960’s en 1970’s het baie mense in die VSA gedink dat as swartmense geweldadig hul punt maak, die regering meer aandag aan hul saak sal gee. Hierdie mentaliteit het begin groei, en het inderdaad tot lewensverlies gelei. Martin Luther King Junior was ‘n swart predikant wat volgehou het dat geweld nooit ‘n langtermyn volhoubare antwoord bied nie. Hy het geweldlose protes voorgestel, ‘n alternatief wat uiteindelik werklik suksesvol was in die hervorming van die manier waarop die samelewing gefunksioneer het.

Die wêreldbevolking gaan binnekort meer as tien miljard wees. Tien miljard mense wat paar keer ‘n dag moet eet, wat ligte wil aanskakel, skoon water wil drink, en veilig wil woon in aanvaarbare omstandighede. Daar kan geen twyfel wees dat daar baie druk op infrastruktuur, voedselproduksie, en regerings gaan wees nie. In sulke omstandighede is dit nie onmoontlik dat ‘n droogte of ‘n ekonomiese ramp soos een wat die wêreld in 2008 getref het kan lei tot radikale idees nie. As dit sou gebeur sal jong debateerders nodig wees, jong mense wat weet wat reg is, doen wat reg is, en sê wat reg is, op so ‘n manier dat mense saamstem.

II. Bestuur van hulpbronne en geleenthede Dit sou baie maklik wees vir ons om te dink dat die toekoms reghoekig in die arms van die regering lê. Ons beweeg egter in ‘n tyd in waar dit mag meer en meer in die hande van groot maatskappye lê as wat dit werklik in die hande van regerings lê. Elke dag maak groot selfoonmaatskappye besluite oor miljoene ton metaal, en miljoene liters brandstof, om nie eens te praat oor die duidende werkers, en hulle gesinne nie. Elke dag maak groot voedselmaatskappye besluite oor miljoene hektar grond, hoe om dit aan te wend, en wie daardeur bevoordeel sal word.

Hierdie besluite is niks anders as idees wat uitgevoer word nie – idees wat getoets moet word, en uitgedaag moet word. As Suid-Afrikaners, en as burgers van ‘n land wat nog ontwikkel, en in baie opsigte nog leer om te loop, rus die onus op ons om van groot maatskappye rekenskap te eis in sover dit gaan om die aanwending van die hulpbronne van ontwikkelende lande. Dit kan ongelukkig te maklik gebeur dat ons grond, ons hande, en ons ondergrondse hulpbronne op so ‘n manier gebruik word dat dit die wêreld dien, terwyl dit nie ons land werklik optimaal dien nie. As dit sou gebeur, of as dit lyk asof so iets op pad is, sal dit ons stemme, die stemme van die burgers van ons land, wees, wat dit bewustheid daaroor skep, en dit hopelik keer voordat dit te laat is.

4. Wat is die impak van debat?[wysig]

In hierdie artikel het ons begin deur te kyk na kere in die wêreldgeskiedenis waar goeie, vaardige sprekers, die verloop van die geskiedenis verander het deur goeie punte goed te maak. Ons het toe gekyk na waarom dit vir skoliere, selfs jong skoliere, belangrik is om betrokke te raak, en betrokke te bly by debat. Toe het ons gekyk na die toekoms, en waarom goed opgeleide en beginselgedrewe sprekers in die toekoms van ons land, en ons wêreld, ‘n groot rol sal speel.

Om hierdie hoofstuk af te sluit kan ons saamvat wat ons leer uit hierdie hoofstuk. Ten eerste, wat jy sê maak saak – nie net in jou klaskamer, skoolsaal, of selfs in ‘n nasionale vergadering nie – maar in die wêreld so groot en wyd as wat dit ooit kan wees.

Ten tweede, hoe jy dit sê maak saak – as jy nie die vermoë het om mense deur middel van jou styl, jou woordkeuse, en jou vaardigheid om te koop om vir jou van hulle kosbare tyd te gee nie, maak jou inhoud, hoe suiwer ook al, soms nie saak nie. Ten derde: As spreker het jy ‘n verantwoordelikheid om te praat namens die wat onderdruk word, te skree namens die wat stil is, en op te staan namens die wat lê. Debat het sosio-polities die wêreld verander, en dit sal die wêreld nog in ons tyd, en na ons tyd aanhou draai.