Navorsing

Vanaf DebatWiki

Inleiding[wysig]

Dis redelik intimiderend om net skielik oor 'n wildvreemde onderwerp navorsing te moet begin doen! Natuurlik is dit ideaal om geleidelik mens se algemene kennis sover as moontlik uit te brei - in welke geval jy dadelik minstens 'n idee sal hê waar om te begin.

In die meeste gevalle sal daar egter minstens een aspek van die debat wees waarmee jy nie heeltemal gemaklik is nie. Moet dus nie kommer nie - dis normaal. Die ander span sit, natuurlik, ook in 'n soortgelyke situasie.

Tot 'n groot mate word die gang van die debat, dus, bepaal deur jou vermoë om so vinnig as moontlik basiese kennis op te doen. Gelukkig is daar 'n goeie kortpad om jou gedagtes te begin rig!

Maak gebruik van algemene, inleidende inligtingsbronne.

Baie vakkundige werke word juis geskryf met 'n oog daarop om so vinnig as moontlik 'n breë gehoor van nie-kenners 'n basiese idee van die onderwerp te gee. As die onderwerp, byvoorbeeld, in 'n handboek gedek word, sou dit 'n goeie idee wees om 'n vinnige ogie daaroor te gooi. Sulke bronne van inligting sluit die volgende in:

  • Handboeke
  • Ensiklopedieë (insluitend Wikipedia)
  • Politieke/filosofiese woordeboeke

Selfs 'n bron soos Wikipedia (wat nie oor voldoende gesaghebbendheid beskik om as 'n bron in die debat aangehaal te word nie) kan dus baie nuttig wees om jou aan die gang te kry - veral aangesien hierdie webtuiste talle verwysings na ander nuttige bronne op hom het!

Talle universiteite bied ook vir hul studente toegang tot aanlyn ensiklopedieë - maak dus gebruik van hierdie fasiliteite as jou universiteit dit aan jou beskikbaar maak.

Wat is 'n goeie bron?[wysig]

Dis natuurlik nie 'n goeie idee om alles te glo wat jy hoor op straat - of op die internet nie. Dieselfde beginsel geld net so ook vir debat.

Alle sprekers in 'n debatskompetisie is daar in hul persoonlike hoedanigheid - daar is dus geen kenners in ekonomie, die reg of enige ander onderwerp nie. Aan die een kant is dit fantasties - dit verseker immers dat almal goeie argumente kan maak sonder vrees dat hul, bloot as gevolg van hul vakkundige agtergrond, geïgnoreer word nie.

Dit beteken egter ook dat alle debateurs afhanklik is van eksterne bronne om hul punte te staaf - en hoe meer gesaghebbend die bron, hoe beter!

Goeie voorbeelde van bronne sluit in:

  • Verslae van regerings en internasionale liggame
  • Joernaal-artikels
  • Wetgewing
  • Vakkundige boeke en handboeke
  • 'n Gewone koerant- of tydskrifartikel is, dus, gewoonlik nie gesaghebbend genoeg om jou gehoor (en opponente) te oortuig nie. (Hoewel dit kan nuttig wees as jy bloot net wil bewys dat 'n betrokke gebeurtenis wel gebeur het - mens hoef immers nie 'n vakkenner te wees in so geval nie!)

Die vind van goeie bronne[wysig]

Soos bo genoem, is daar baie maniere waarop universiteite en ander tersiêre instellings inligting aan hul studente (vir navorsingsdoeleindes) beskikbaar stel. Daar is egter ook talle maniere om inligting op te spoor wat oor genoegsame gesag beskik!

Voorbeelde sluit in:

  • Google Scholar
  • Die bronne gebruik op Wikipedia, waar toepaslik.
  • Webtuistes van liggame soos die VN, Wêreld Handels-organisasie, Instituut vir Rasseverhoudinge ens.

Hoekom gebruik maak van bronne?[wysig]

Bronne en bewyse is die materiaal wat bestaan uit feite, menings en analise wat standpunte versterk of verswak. Deur hierdie materiale saam te bring en gevolglik daardeur te beredeneer kan verskeie gevolgtrekkings gemaak word. Kritiese denke kan nie plaasvind sonder gesonde bronne en bewys as grondslag nie. Bronne en bewyse is die boublokke waarop argumente gemaak word. Indien bronne en bewyse akkuraat is kan ‘n sterk saak vir ‘n standpunt gemaak word maar indien bronne en bewyse swak of gebrekkig is sal die saak vir die standpunt te maak onoortuigend wees.

Die impak wat bronne en bewyse op die gehoor en beoordelaars het hang af van die persepsies en waardes van die persone. In meeste gevalle word die gehoor en beoordelaars beinvloed deur beide die standpunt wat gemaak word en die bron of bewys wat die standpunt ondersteun. Alhoewel meeste beoordelaars tot die beste van hul vermoë poog om hulself te skei van persoonlik oordele bly dit ‘n groot invloed oor hoe hul standpunte en bronne beoordeel.

Nie alle debatsformate vereis noodwendig die uitdruklike gebruik van bronne nie. In debatte waar bronne nie verpligtend is nie, speel dit wel steeds ‘n belangrikke rol. Bronne en bewys word gebruik om beide jou eie standpunt sterk en oortuigend te maak sowel as om ‘n standpunt van jou teenstaander verkeerd te bewys om te verswak.