Verskil tussen weergawes van "Struktuur"

Vanaf DebatWiki
ou>DebatDaniel
k (2 weergawes)
 
(Geen verskil)

Huidige wysiging sedert 09:00, 22 Januarie 2019

Inleiding[wysig]

Het jy al ooit ‘n argitek se bouplanne van naby af kon sien? As jy kon sou jy sien dat enige gebou ‘n baie vaste struktuur het. Daar is ‘n manier hoe die fondasie gelê word sodat dit vas en stewig is. Daar is ‘n manier hoe die mure gebou word, hoe daar planne gemaak word vir vensters en deure, en pype en drade. Daar is ‘n manier hoe die dak beplan word, ‘n plan vir elke plankie en teeltjie – en dit alles nog voordat een grafie grond uit die aarde uit gespit is! Met goeie argumentering en redevoering gaan dit baie soos wat dit gaan met die bou van ‘n huis. Daar is ‘n plan, en hierdie plan sluit in wat alles gesê moet word, hoe dit gesê moet word, en wanneer dit gesê moet word. Jy kan jouself indink dat as jy net wegspring en praat oor ‘n klomp komlekse idees sonder om behoorlike definisies te gee of ten minste ‘n bietjie konteks te skep, jy jou gehoor sal verwar totdat hulle belangstelling verloor, en dan verveel totdat jy uiteindelik gaan sit. Die doel van hierdie hoofstuk is om jou te leer om soos ‘n argitek te wees wanneer jy ‘n debat betree. In hierdie hoofstuk wil ons kyk ten eerste na waarom struktuur belangrik is, en dan na al die verskillende tipes struktuur. Ons gaan spesifiek fokus op: 1. Die struktuur van ‘n groepsdebat. 2. Die struktuur van ‘n toespraak. 3. Die struktuur van ‘n argument. Deur na hierdie drie punte te kyk begin ons met ‘n teleskoop, wat vir ons die breedste en wydste perspektief kan gee, dan trek ons die vergrootglas nader en ondersoek dinge so effens fyner en nader, en laastens sit ons die mikroskoop op die tafel en kyk na die kleinste besonderhede.

Waarom is struktuur belangrik wanneer mens met ‘n gehoor praat?[wysig]

Van die vroegste tye af vertel mense al stories. Vir duisende jare voordat papier en ink ontwikkel is het volke hulle volksverhale, gelowige verhale, en geskiedenisverhale, met stories aan mekaar oorgedra. Verskeie antieke verhale, soos die Griekse verhale oor die god Zeus en sy kinders, en die verhale van Achilles en Hector soos wat ons dit in die film Troy sien, is vir eeue lank deur stories oorgedra voordat dit neergeskryf is. Die rede hiervoor is omdat mense van nature so ingestel is dat ons ‘n ryk verbeelding het, en die vermoë het om in ons koppe te sien hoe ‘n storie volgens ons sou lyk terwyl iemand dit vir ons vertel. ‘n Debat of ‘n argument werk in baie opsigte ook presies op hierdie manier met ‘n mens se kop. Jou gehoor, of beoordeelaars of opponente sien in hulle verbeeldings jou argumente soos wat jy hulle verduidelik. As jy praat van oorlog is daar dadelik ‘n prentjie in hulle koppe van hoe ‘n oorlog lyk, en soos wat jy verduidelik word die prentjie in hulle koppe duideliker en duideliker. As jy byvoorbeeld praat van ‘n vis, dan dink jou luisteraar dalk aan ‘n baber wat onder in ‘n dam lê, terwyl jy ‘n geelvis bedoel het wat in die see swem. As jy egter praat van ‘n geelvis en jy gee spesifikasies van hoe die vis lyk, dan raak dit vir die luisteraars van jou storie makliker om jou te verstaan. Die struktuur wat jy geskep het, het van jou ‘n meer effektiewe kommunikeerder, en natuurlik ook ‘n meer effektiewe debatteerder gemaak. Jou debatstoespraak is in wese ‘n storie wat jy vertel, en hoe makliker jy dit vir die gehoor maak om jou storie te verstaan, hoe groter is die kans dat hulle met jou gaan saamstem, want hoe kan mens met iets saamstem wat jy nie verstaan nie? Dink byvoorbeeld aan ‘n seun wat vir sy maats probeer oortuig dat die rugbyskeidsregter ‘n onregverdige drie aan die opponente toegestaan het. Die seun kan begin deur te vertel hoe die lig sleg was, of hoe die skeidsregter nie aandag gegee het nie en die hele tyd op sy selfoon besig was – hierdie seun skep konteks, hy vertel vir sy luisteraars van die omstandighede waarbinne hierdie dinge plaasgevind het, en hy maak dit makliker vir hulle om te verstaan, en saam te stem. As dié seun nou heelhartig oorgaan na die spesifieke moment toe, en hy verduidelik dat die opponent duidelik op die grenslyn getrap het, dan argumenteer hy. As die opponent buite die speelveld was, is ‘n reël oortree, en die drie was inderdaad onregmatig. Die spreker kan dan verder gaan en ‘n spanmaat nader roep wat dit ook gesien het – nou staaf hy sy argument met bronne. In wese doen hy niks anders as debatteer nie, en die manier hoe hy sy storie vertel, sy struktuur, sal bepaal of die mense wat daar wegstap saamstem, en of hulle van hom verskil. Struktuur was dus in sy geval deurslaggewend tot hoe hierdie luisteraars oor hom, sy span, en hulle verteenwoordiging van die skool of omgewing voel.

Hoe werk die struktuur in ‘n groepsdebat?[wysig]

‘n Groepsdebat is tipies wat ons op skolevlak het in Suid-Afrika – ‘n span van twee, drie, of selfs vier lede is almal saam die voorstaanders of teenstaanders, die span vir of teen ‘n sekere standpunt. Elkeen in hierdie span het ‘n baie spesifieke rol in die gesprek. Voordat ons kyk na die verskillende rolle van die sprekers, moet ons eers bepaal wat moet alles in ‘n goeie debat wees. Sekere van hierdie elemente sal by elke spreker herhaal word, ander word net een maal aangespreek, en dan daarmee afgehandel:

I. Inleiding[wysig]

a) Bekendstelling en opening[wysig]

In enige effektiewe toespraak is dit die hele tyd duidelik aan die persone wat daarna luister wat besig is om te gebeur. Vir hierdie rede is dit gewoonlik so dat ‘n goeie spreker gewoonlik reeds in sy of haar eerste sin hom- of haarself bekend sal stel, en sal stel waarom hy of sy daar is. Wanneer jy as skolier dus opstaan en sê: “Goeiemiddag, Voorsitter, dames en here, my naam is Jan en ek gaan vandag as tweede spreker van die opposisie verder gaan met die argumente wat die eerste spreker van die opposisie na die tafel gebring het” – dan weet almal in die vertrek wie jy is, en hoekom jy daar is. Ons spreek uit hoflikheid altyd die voorsitter aan, en omdat debat ‘n formele aktiwiteit is, pleeg ons altyd die korrekte formaliteite. In die Parlement sal ‘n parlementslid altyd begin deur die speaker te bedank vir die geleentheid om te praat, en ook altyd deur die speaker te praat. Op dieselfde vlak het jy as debatspreker die geleentheid om te praat omdat die voorsitter jou na vore geroep het. Om dus jou toespraak te begin sonder om die voorsitter van die vergadering te erken sou verkeerd wees, en as jy debatteer vir punte, sou dit vir jou sleg uitwerk op die puntestaat. Op hierdie punt wil ek ‘n persoonlike ervaring met jou deel – tydens my universiteitsjare het ek elke liewe toespraak met ‘n relevante humoristiese opmerking begin, nie as eerste woorde nie, maar sodra ek die voorsitter en die huis gegroet het. As die debat in Potchefstroom was en ons het gepraat teen mense van Johannesburg of Pretoria af, het ek ‘n grappie gemaak oor die padwerke op die snelweg of iets van dié aard. As dit gaste van die kus af was het ek iets gesê oor die beenspasie op vliegtuie of die pasteie wat mens by motorhawens koop, of iets heeltemal relevant. Ek het gevind dat, wanneer almal in die kamer gespanne is en wag vir die volgende golf aanval en verdediging, komiese verligting binne sekondes vir my die guns van die gehoor gewen het. Soms is dit onnatuurlik, en pas humor nie by die tema of die kamer nie, maar onthou dat hoe gouer en hoe beter jy die mense wat vir jou luister aan jou kant kan kry, hoe beter is jou kans om op die ou einde die debat te wen. Selfs iemand wat perfekte argumente het maar mense aan die slaap praat of beledig sal nie veel sukses hê nie – juis omdat die kamer nie inkoop by dié spreker se punte nie.

b) Onderwerpstelling[wysig]

Daar is beoordelaars wat dink dit is onnodig of oorbodig vir jou om met elke liewe toespraak te stel wat die proposisie van die debat is, maar dit kan dikwels so wees dat sprekers baie ver van die eintlike onderwerp af is. Indien dit die geval is maak dit dalk sin vir jou as spreker om die huis net te herinner aan die debatsonderwerp deur gewoon te sê “Ons debatsproposisie/mosie/onderwerp vandag is:.................”. Waaroor gaan dit eintlik vandag? Deur dit te doen sal jy dikwels vind maak jy alreeds die vertrek, sonder dat jy veel moeite doen, bewus van die lyn wat jou opponent getrek het, want waarom sal jy ons wil terugbring na die eintlike punt toe as daardie spreker by die punt gebly het?

c) Definisies[wysig]

Alhoewel ons reeds na ontleding gekyk het, is definisies van kardinale belang, so ek brei graag nog so ‘n klein bietjie daaroor uit – omdat ‘n gesprek oor struktuur sonder ‘n gesprek oor definisies van sy genesis af ‘n sinkende skip is. In ‘n debat is daar dikwels komplekse idees of konsepte wat deel vorm van die onderwerp. Vir enige van die twee kante om gewoon aan te neem dat beide kante verstaan wat hierdie moeilike woord presies beteken, het al daartoe gelei dat duisende debatte op skoolvlak ‘n uur van miskommunikasie word. Kom ons kyk na die woord “nasionalisering” – hierdie woord beteken volgens die woordeboek wat jy in jou toespraak gaan aanhaal dat die staat ‘n bate oorneem van ‘n privaat maatskappy, maar daar is soveel konteks nodig, en ingeboude tydbomme in ‘n roekelose benadering tot hierdie woord. Bedoel nasionalisering in hierdie geval dat die staat hierdie besigheid of bate net gaan besit, of gaan die staat hierdie bate ook bestuur? Is dit volle nasionalisering, in die sin van volle eienaarskap, of word die staat net een van die mede-eienaars wat om die tafel sit? Elke een van hierdie punte kan ‘n debat sinneloos en lelik maak, en veroorsaak dat niemand se argumente by mekaar uitkom nie, wat uiteindelik, ten minste op skolevlak, daartoe sal lei dat albei spanne slegte punte kry. Die ideaal is dat die eerste spreker in die debat al die moeilike konsepte, of woorde wat misverstaan kan word, op ‘n billike en regverdige manier moet definieer. Dit kan wees dat die eerste spreker egter ‘n woord of term so streng definieer dat dit onmoontlik word vir die ander kant om ‘n debat te voer – ‘n redelik algemene taktiek in die huidige hoërskooldebatskringe. In so ‘n geval moet die eerste spreker van die opponente die definisie verwerp, en ‘n meer billike definisie voorstel. So ‘n spreker kan ook aandui dat die definisie wat die eerste spreker in die debat voorgestel het onredelik is, en die onderwerp onmoontlik maak om te debatteer. Indien dit wel die geval is, sal die luisteraars en beoordelaars in meeste gevalle saamstem, en die voordeel van die twyfel aan die opponerende span gee. Onthou dus as eerste spreker in die debat dat definisies nie veronderstel is om die plek te wees waar jy die debat wen of verloor nie, jy is veronderstel om regverdige lyne te trek waar beide spanne graag wil speel – jy is nie veronderstel om die lyne so te trek dat die ander span nooit kan wen nie. d) Antisipering Ons het reeds in die eerste hoofstukke gekyk na hoe jy jou opponent strategies kan benader, so hier sal ons net vlugtig hersien. As jy en jou broer of suster ‘n argument het oor die eetplek waarheen julle kan gaan die aand nadat julle julle goeie rapporte by die skool gekry het, is julle besig met waardevolle debattering. As jy reeds voordat jou broer of suster praat weet na watter restaurant hy of sy graag wil gaan, en jy kan uitwys waarom dié spesifieke plek nie goed genoeg is nie nog voordat sy dit kon noem, dan het jy geantisipeer en sommer daar en dan verdedig. Dit is soos om in tye van oorlog jou opponent se boot te sink nog voordat dit uit die hawe uit is. As heel eerste spreker in ‘n debat moet jy antisipeer wat van die ander kant af na die tafel toe gaan kom, en dit sommer verdedig nog voordat hulle ‘n woord kon sê.

II. Argumentering[wysig]

Ons het alreeds in ‘n vorige hoofstuk gekyk na die tipes argumente wat jy kan hê, en hoe jy hulle vir aanval en verdediging gaan gebruik. Hier gaan ons net kyk na die struktuur van ‘n verdedigingsargument, en die struktuur van ‘n aanvalsargument. e) Verdediging Hoe jy jou verdediging struktureer gaan uiters bepalend wees tot die sukses daarvan. As jy net sommer wegspring en ‘n klomp goed sê wat nie regtig sin maak nie, gaan dit moeilik wees vir almal in die vertrek om te volg waarmee jy besig is. ‘n Sinvolle benadering is om te sê: “Opponent, jy het gesê dat................., en ek reageer graag daarop”. Ja, dit klink effens meganies, maar deur dit te doen weet almal in die vertrek dat jy hierdie een spesifieke argument nie net verby laat gly nie, maar dat jy erns daarmee maak, en nou jou volle aandag daaraan sal gee. Die mees gestruktureerde sprekers sal dan na afloop van die aanspreking van hierdie argument, iets sê soos “ek beweeg graag aan”. Deur seker te maak dat elke persoon in die vertrek presies weet waar trek jy, maak jy dit vir hulle maklik, en lekker om vir jou te luister, wat jou ‘n baie meer oortuigende spreker maak. f) Aanval Oor aanval, wat die kern van jou debat is, en sal wees, het ons in hierdie boek al baie gesê, en sal ons nog baie sê. Op hierdie punt sal daar oor die inhoud niks gesê word nie, net oor die struktuur van ‘n aanvallende argument. Binne in ‘n goeie argument is daar meestal die vier B’s: • Benoem • Bespreek • Byvoorbeeld • Bron Benoem jou argument, gee hom ‘n eenvoudige naam, sodat almal weet wat is die naam van hierdie hoofstukkie van jou toespraak. As ons voortgaan met die nasionaliseringsargument, en ons sou stel dat jy vir nasionalisering is, kan jy begin en sê: “Ek kom by my eerste argument – die staat het baie meer kapasiteit”. In plaas daarvan dat jy net weggespring het en gepraat het oor hoe die staat geld het om maatskappye te help wat sukkel, gee jy dit ‘n naam, en ons weet waarheen jy op pad is. By die bespreking voer jy die argument soos wat in die argumenteringshoofstukke aangevoer is – maak seker dat jy die luisteraar van een punt na ‘n ander punt lei, anders help inhoud nie werklik nie. In terme van ‘n voorbeeld hoef jy nie by elke argument ‘n goeie voorbeeld te hê nie, maar as jy wil voorspel hoe ‘n groep gaan optree is ‘n goeie voorbeeld van waar dit al gebeur het altyd ‘n bonus, omdat jy kan bewys dat dit wat jy sê al gebeur het, en daarom waarskynlik weer kan gebeur.

III. Afsluiting[wysig]

Die laaste woorde wat jy in ‘n toespraak, of as span sê, is van kernbelang, juis omdat mense geneig is om meer aandag te gee as hulle weet jy is amper klaar. Jou laaste stelling sal dikwels onthou word, so kies jou woorde en benadering goed. g) Samevatting Die eerste stap tot ‘n goeie afsluiting is ‘n goeie samevatting – wat is alles gesê in jou toespraak, waarom was dit belangrik vir hierdie debat, en waarom moet die luisteraar dit onthou. h) Oorhandiging In ‘n spandebat is dit goeie etiket om ‘n oorhandigingsin in te bou. Jy kan net stel “die volgende spreker vir die voorstaanders/regering is................ en hy/sy gaan kom praat oor..........”. Sluit dan af met ‘n eensinverklaring oor jou kant van die onderwerp, of indien jy voel dit sou oorbodig wees, beweeg gewoon af.

Die goue draad[wysig]

Onthou altyd dat, wanneer julle as span ‘n debat voer, julle werklik net een standpunt het. Daar is die een standpunt, ja met verskeie argumente, maar dit is steeds een standpunt. Hierdie een saak waarvoor julle veg moet in elke afsonderlike toespraak sigbaar wees, en moet julle toesprake saambind en ‘n eenheid maak. As elke spreker eintlik maar ‘n ander standpunt inneem, is die krag van die primêre standpunt afgewater, of selfs afwesig.